Omgewingsgeoriënteerde literêre en kulturele studies, of kortweg, ekokritiek, het in die laat 1980's steun verwerf in die Verenigde State van Amerika. Dit het egter eers aan die begin van hierdie eeu in Suid-Afrika ingewortel geraak en word maar sowat vir die laaste dekade in die veld van Afrikaanse literatuur toegepas. Die gesag-hebbende Duitse ekokritikus Axel Goodbody het op ʼn konferensie in Nijmegen in 2010 sy besorgdheid oor die stadige verspreiding van ekokritiek na nie-Engels-sprekende literature uitgespreek. Hy het die verlammende uitwerking van die hege-monie van Engels as kommunikasiemedium op die beoefening van ekokritiek beklemtoon. Goodbody het gewaarsku dat debatte oor ekokritiek armer sal wees indien hulle die hulpbronne van teoretisering en kritiese ontleding in nie-Engels-sprekende taalen ander kontekste, en kulture wat nie deur Engelssprekende tradisies oorheers word nie, verwaarloos. Afrikaans was deel van die oplewing van verskillende nasionale stemme en tale in hierdie veld. Hierdie artikel sluit aan by die debat oor die uitbreiding van ekokritiese studies, om ʼn meer omgewingsgeoriënteerde wêreld van navorsing in te sluit as die een wat vir ʼn hele paar dekades deur Engelssprekende literature oorheers is. Dit bied ʼn kritiese-beskrywende oorsig van hoe ekokritiese studies wat op Afrikaanse literêre verhale fokus, tematiese wetenswaardighede vir ekokritiek in ons land toelig en nuanses daartoe byvoeg. Ek wil klem lê op die uiteenlopende en oortuigende bydraes van Afrikaanse literêre kritici tot "die verstaan van die menslike verhouding tot die planeet" (Joni Adamson & Scott Slovic, 2009: 6). Hierdie bydraes word ontleed om ook die toepaslikheid van die verskillende teoretiese invalshoeke in gebruik te evalueer, beskou binne die breër teoretiese diskoers van ekokritiek. [ABSTRACT FROM AUTHOR]